DIE SKEPPING


Gen 1 : 1 - 2 : 4
In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2 Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. 3 Toe het God gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. 5 God het die lig toe dag genoem, en die donker het Hy nag genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag. 6 Toe het God gesê: Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei. 7 So het dit gebeur. God het die gewelf gemaak en die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf. 8 God het die gewelf hemel genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag. 9 Toe het God gesê: Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word. So het dit gebeur. 10 God het die droë grond aarde genoem, en die waters wat bymekaargekom het, het Hy see genoem. En God het gesien dit is goed. 11 Toe het God gesê: Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit. So het dit gebeur. 12 Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. 13 Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag. 14 Toe het God gesê: Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui. 15 Hulle moet ligte wees aan die hemelgewelf om op die aarde lig te gee. So het dit gebeur. 16 God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre. 17 God het hulle in die hemelgewelf geplaas om op die aarde lig te gee, 18 om oor dag en nag te heers en om lig en donker van mekaar te skei. En God het gesien dit is goed. 19 Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag. 20 Toe het God gesê: Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg. 21 God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. En God het gesien dit is goed. 22 Toe het God hulle geseën: Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op land. 23 Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag. 24 Toe het God gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy aard. So het dit gebeur. 25 God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. 26 Toe het God gesê: Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip. 27 God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. 28 Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip. 29 Verder het God gesê: Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. 30 Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos. So het dit gebeur. 31 Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

Gen 2 : 1 - 4 Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2 Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3 Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. 4 Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.

Hoe gelukkig kan ons as mens nie wees dat God hierdie enorme taak op Hom geneem het nie. Hierdie projek wat sommige mense sê was sommer net toevallig. Gelukkig was dit nie, want dan sou alles net sommer 'n misoes gewees het. Ongelukkig weet ons nie presies hóé God geskep het nie, maar gelukkig dat God geskep het. Ek is so bly dat God dit alles gedoen het sodat ek en jy kan lewe.

In die begin het God die hemel en aarde geskep. Wat het Hy geskep? Wel, eerstens àl die materie in die heelal. Ons weet vandag uit 'n wetenskaplike oogpunt dat ons geen materie kan maak of vernietig nie. Ons kan dit bloot van een vorm na 'n ander verplaas. Dus, toe God geskep het, soos in Gen 1 verduidelik word, het Hy alles gemaak wat vandag nog bestaan, ook die stof waarvan ons gemaak is. Toe het God gesê, laat daar lig wees. Nie die son en maan nie, want dis eers dag 4 gemaak. Dalk straling, of energie, ek weet nie. Toe het God gesê, laat daar 'n gewelf wees om die waters van mekaar te skei. Gelukkig het God water gemaak. Hierdie wonderlike smaaklose en kleurlose goed waarsonder ons nie kan leef nie. Hy het soveel gemaak dat daar genoeg is vir elke mens op aarde, en soveel biljoene kiloliters dat daar 'n ryk seelewe is wat 'n enorme bron van voedsel vir die mensdom verskaf. Water, 'n wonderlike drankie.

Toe het God gesê, laat daar uit die aarde groenigheid kom, groen plante op aarde wat saad gee en vrugtebome. Gelukkig, want daar voorsien God vir ons 'n wêreld van voedsel en lekkernye. Vrugte, soms lekkerder as sjokolade. Dink net, stroopsoet druiwe, of 'n sappige perske, of 'n heerlike litchi, net reg om te pluk. Gelukkig, want ons kan dit nie self maak nie. Ons hoef dit net te pluk. En as daar nie genoeg is nie, plant ons net die saad van daardie selfde vrug, en gelukkig laat God dit groei, want ons kan nie. Ons kan dit net natgooi. Maar gelukkig het God die water voorsien. Geen wonder daar staan "En God het gesien dit is goed." Maar gelukkig het God nie daar gestop nie. In vers 14 - Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Gelukkig maak Hy toe 'n bron van lig vir dag en nag. Al gehoor van die donker buitenste ruimte? Nie hier op aarde nie. Gelukkig vir ons, verskaf die son sommer 'n bron van energie wat maak dat ons kan sien, warm kry, en totaal verantwoordelik is dat elke plant op aarde kan groei. En sommer op die koop toe vind fotosintese plaas sodat ons suurstof kan hê. Gelukkig skyn die son ook nie heeldag nie, anders sal dit te warm word. Gelukkig word dit ook nag sodat ons kan slaap en daar vir ons 'n rusperiode aanbreek. Die maan maak gelukkig getye om die see skoon te spoel. Sjoe, nee, dit het nie per ongeluk gebeur nie, gelukkig het dit gebeur!!

Toe het God gesê, laat die waters krioel van die lewende wesens, en laat daar voëls vlieg. Gelukkig begin God toe om 'n bron van voedsel te skep om die ekologie in stand te hou. Met ongelooflike voedselkettings wat net perfek werk. En toe skep God al die diere. Sodat ons 'n amper onuitputlike bron van voedsel kan hê. Gelukkig was daar ook mak diere, sodat ek met Lullu, my worshond kan speel. En wilde diere. Sjoe, dit is ook nogal 'n groot geluk, want so word die ekologie in stand gehou. Gelukkig het God dit toe in gedagte gehou dat ons diere sou nodig hê, bv 'n perd om mee te ry, of 'n hond vir 'n waghond. Sjoe, gelukkig word ons ook nie sommer lus om hulle te eet nie. Gelukkig het Hy ook spinnekoppe en ander gediertetjies gemaak om dinge in balans te hou. Ongelukkig hou ek net nie van die goetertjies nie. En toe maak die Here die mens. (die man). Nogal gelukkig, anders het ons mos nie geleef nie! Maar gelukkig het Hy ook vir die man 'n vrou gemaak. Sodat ons in heerlike liefde en harmonie met mekaar kan leef - wat 'n keuse is. Ongelukkig kies ons net soms om dit op te foeter. Gelukkig het God toe besluit om die mens die kroon van Sy skepping te maak, om te heers oor alles. En daarna het God gerus, en gelukkig ook vir ons 'n rusdag geskep om weer ons kragte te herwin. Ongelukkig besluit ons net soms dat die baas hierdie rusdag moet opslurp. Sjoe, gelukkig kan die Here ons vergewe.

Gelukkig het God dit alles gedoen, maar nog meer. Ons kan nogal gelukkig wees dat God Sy Seun gestuur het, en een van daardie bome wat Hy geskep het, is toe gebruik vir 'n kruis, sodat Hy daar vir ons sondes kon betaal. Jong, ons is gelukkig, want ons sou dit nie kon doen nie. Die ander ding waaroor ons nogal baie bly kan wees, is dat God ons met die vermoeë geskep het om te kan kies, of ons in die hemel, wat Hy gelukkig ook geskep het, kan gaan woon. Gelukkig gaan die tyd daar nooit om nie, en kan ons vir altyd en altyd in God se teenwoordigheid bly. Ongelukkig gaan die tyd in die hel ook nooit om nie. Maar nou ja, gelukkig kan ons self kies.

God het ook sommer so met die skep van plante en bome vir ons materiaal voorsien waarop ons kan skryf en gelukkig het ons vandag die Bybel, sodat ons kan weet hoe om daar in die hemel te kom. Sjoe, gelukkig het God ons ook so slim gemaak dat ons kan lees. En bo alles, is ons só gelukkig dat God die Heilige Gees gegee het sodat ons die gawe van geloof kan hê.

Voel jy vandag ongelukkig? Wel, God het ons so baie gegee om oor gelukkig te wees, ons moet dit net raaksien. En dan, gelukkig is God liefde, en ons het so 'n stukkie daarvan gekry, sodat ons baie gelukkig kan lewe.

Hoekom sien ons dit nie alles raak nie? Want ongelukkig gaan ons geestesoë soms so bietjie toe. Maar gelukkig is God steeds lief vir ons.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)